<<  February 2012  >>
 Mo  Tu  We  Th  Fr  Sa  Su 
    5
  6  7  8  9
13141516171819
20212223242526
272829    
  • Haloda

    Haloda Steve se nuwe CD met Haloda, Kol Op Die Maan, 12 uur, Asemrowend, Vredenburg, Mei en meer.
  • 1001-Super Uitgawe

    Duisend En Een2010 sees Steve's 23rd CD. A re-release in 2011 with a new hit "Ons sal dit oorleef" and 3 music videos
  • Steve sings Diamond

    Beautiful Noise 2009 ReunionAll new show! - See Gig Guide for dates
  • Autobiography

    Mense van my asem South Africa's #1 bestseller for 6 weeks! (Non-Fiction) Autobiography
    Mense van my asem Mense Van My Asem in top 5 best selling SA nonfiction for 3 straight months!
  • Steve - Live!

    Steve - Live!Come catch Steve on tour: Concert's country-wide. Check "Toer Datums" for more info.
     
Special Feature

Steve on Facebook

Steve on Facebook

EMI SA

Logo EMI

Haloda

Music Samples

Bijan Hair Boutique

Bijan

Share

Recent News
(Beeld) By: Die ware Steve? PDF Print E-mail
User Rating: / 13
PoorBest 
Wednesday, 10 December 2008 15:39
Steve Hofmeyr se outobiografie is Maandag bekend gestel tot groot belangstelling van aanhangers en die media.

Dis 'n lywige boek van amper 400 bladsye, maar gee dit die leser werklik 'n kykie na agter die handelsmerk, vra Ilza Roggeband

O b-jek-tief’ b.nw. en bw. Onbevooroordeel; nie gekleur deur persoonlike gevoelens nie: ‘n Objektiewe waarnemer, skeidsregter.

Objektief staan teenoor die beskuldigde, ‘n vraagstuk. ‘n Roman objektief beoordeel, sonder om jou deur eie gevoel of voorkeur te laat beïnvloed. Teenoor subjektief.

Goed, eers kaarte op die tafel. Ek hou van Steve. Ons het mekaar seker so twintig jaar of wat gelede ontmoet en het deur die jare nog nie veel pyne met mekaar gehad nie. Wanneer ons mekaar sien, praat ons enigiets van musiek tot boeke en politiek, maar iewers draai die gesprek altyd na kinders. Sy twee jongstes en my enigste se ouderdomme is na aan mekaar en Zac (myne) en Sebastian (sy tweede jongste) se eerste woord was dieselfde: kar.

Ek het ook, op sy voorstel, die kunstenaarsbesprekings en navorsing vir die reeks "Dis hoe dit is" gedoen wat vroeër vanjaar op kykNET uitgesaai is. Clive Morris Productions, die vervaardigers, het my weer gevra om aan die nuwe reeks te werk wat in Januarie opgeneem word en later in volgende jaar uitgesaai word.

Maar hierdie is ’n resensie en om objektief te wees is belangrik.

Natuurlik was ek nuuskierig oor Mense van my Asem. Want hoe goed jy ook al dink jy Steve Hofmeyr ken, daar is altyd ’n kaart of twee wat hy teen sy bors hou. Die afgelope tyd was sy lewe poeding vir die media in Suid-Afrika. Die siekte wat hom amper sy lewe gekos het, sy buite-egtelike verhouding, die trekpas van Louis van Wyk en alles wat daarmee saamgegaan het en die een vraag wat almal vra: Wat van Natasha?

Net een ding oor Natasha vir dié wat nog nie die voorreg gehad het om haar te ontmoet nie. Sy is, soos my tannie sou gesê het, ’n great gal. Intelligent, wonderlike sin vir humor, goeie ma, stylvol, talentvol. Toe Natasha en Steve in 1998 getroud is, was baie mense verbaas. ’n Engelse vrou, so anders as die ander vroue wat al aan Steve se sy was. Maar intellektueel was sy Steve se eweknie. "He met his match."

Coenie de Villiers het jare gelede in ’n onderhoud, pas nadat hy en Steve ’n duet van “Daar’s ’n plek” op Coenie se album Handgemaak opgeneem het, aan my gesê: “Steve Hofmeyr is so slim soos ’n sak ape.”

In Mense van my asem besef jy net weer hoeveel fasette daar aan Steve is. Daar is die musiek, rolle in sepies, flieks en verhoogstukke, die digbundel en die blog. Daar is sy uitlatings oor politiek en godsdiens. Die stories van sy eie lewe en liefdes – van sy kinderjare, sy drie buite-egtelike kinders, sy verhoudings met vroue, sy huwelik en die geboorte van sy twee jongste seuns, die buite-egtelike verhouding met Janine van der Vyver.

Steve kán skryf. Hierdie boek van amper 400 bladsye lees soos ’n blits. Dit is opgedeel in veertien hoofstukke en elkeen behandel óf ’n tyd in sy lewe óf ’n onderwerp. Daar is ook twee bylaes: een oor wat ’n kolostomie is en ander met vrae en antwoorde wat ’n tydskrifonderhoud en lyste van sy gunstelinge insluit.

Die hoofstukke van die boek is opgedeel in onderafdelings wat die lees nog makliker maak. Godsdiens en politiek staan langs vertellings van sy sukses in die vermaakwêreld. En tussendeur leer jy baie van die mens agter die handelsnaam Steve Hofmeyr.

Die eerste hoofstukke oor sy jeugjare vertel van ’n seuntjie wie se ouers vinnig moes trou en ’n pa wat sy drome van ’n loopbaan in die regte moes opgee om vir sy gesin te sorg.

“Ek twyfel nie vir een oomblik dat die maandelikse huur nie altyd beskikbaar was nie,” skryf hy.

“Elke jaar ’n ander skool, ’n ander huis,’n ander kar en ’n nuwe werk. Maar ek onthou nie een enkele uur waarin ’n Matchbox-karretjie my nie skatryk laat voel het nie. En waar die Uile, Jasper, Bollie en Trompie nie my pelle was nie.”

En later: “Daar was donkiekarre op die grondpad teen die bult en afoorhonde aan lang drade geketting. En baie stof. Jou grootste droom was nooit skoene nie, maar ’n 'bicycle'. ”

Sy pa, Steve Hofmeyr II, was duidelik ’n groot invloed in sy lewe. Dit was by hom wat Steve sy eerste paar kitaarakkoorde geleer het en van wie hy sy eerste kitaar gekry het.

Sy pa se dood op 43, en die feit dat hy nie daar was nie, is iets wat Steve duidelik nog jaag. Daar is deur die boek verwysings na sy pa en hoe spyt hy is dat sy pa nie daar was om in die sukses te deel nie. Sy ma is ’n anker in sy lewe.

“Die ding waaroor ons (hy en sy broers) die meeste raas sou kry, was agting vir my ma. Of liewer, die afwesigheid daarvan, wat my pa nooit geduld het nie. Ons moes net een keer driehonderd keer uitskryf: Ek moet my ma respekteer en liefhê. Die ander kere is ons gewetter dat die hale op ons gatte gesit het.”

Die verhale van sy beginjare in die vermaakbedryf is insiggewend en interessant. Daar is staaltjies oor sy medespelers en medekunstenaars en hoe dit met tye maar moeilik gegaan het. As student het hy vir R10 per uur gespeel en gedink dit is baie geld. Nie veel later nie was hy die hoogs betaalde kunstenaar in Afrikaans.

Daar is ’n hoofstuk genaamd “Girls, girls, girls”, maar soos hy skryf: “Wees gewaarsku. Hierdie sou nooit ’n hoofstuk wees waar ek my trofeë oor twee dekades lys nie. Hierdie is nie Steve Hofmeyr se Sekshandleiding nie. Maar iets moet gesê word ter versagting. Ek is ’n popster. Daar is en was altyd girls. Punt.”

Tog word die meeste van die vroue oor wie hy skryf met respek behandel.

Die stukke oor politiek en godsdiens sal dalk ’n paar mense warm onder die kraag maak; en al stem jy nie met hom saam nie, moet jy erken: die man weet hoe om sy punt te stel. G’n wonder mense dink hy is uitgemaak vir die politiek nie.

Die stukke oor godsdiens is veral verfrissend as jy bereid is om jou oë en ore ’n bietjie wyer oop te maak as wat Christelike Hoër Onderwys jou geleer het.

Die boek sou nie voltooi gewees het as hy nie geskryf het oor die skandes en skinderstories wat hom sy lewe lank volg nie. Hy steek nie weg nie – van sy reaksie toe hy die eerste keer hoor hy word pa tot sy latere verhouding met Janine van der Vyver. Dalk was hierdie vir Steve nie bloot ’n boek vir sy aanhangers en familie nie. Dalk was dit sy manier om alles wat met hom gebeur het – van Hennenman se stofstrate tot nou – aan homself te verduidelik. Skryf kan ’n baie helende proses wees . . .

"Mense van my Asem" is ’n goeie outobiografie. Dis eerlik, goed geskryf en goed versorg. Die foto’s wat in twee seksies geplaas word, dra by tot die boek se sukses. Dit is ’n moet vir aanhangers, maar mense wat nog altyd in hul binnekamers nuuskierig was oor die man agter die naam sal moontlik net soveel daaruit kry. Jong sangers met sterre in hul oë kan baie uit die boek leer – hoe om dinge te doen en dalk ook hoe om dinge nié te doen nie.

Source: http://www.news24.com/Beeld/In-Diepte/0,,3-67_2407832,00.html

 
Weskusplek
Helpende Hand Fonds
Photocommission.com - Pro Photographic Services