|
Mnr. Hofmeyr Ons is moeg om die morele bankrotskap van u, sportsterre en presidente te volg in die media. Duidelik verskil ons definisie van God se wil hemelsbreed. Ons moet praat. Ds. A.Venter
Ds. Venter. Jy is reg. Ons verskil hemelsbreed. Jy wil praat oor sonde ek wil praat oor misdaad Jy wil praat oor seks en ekse ek wil praat oor die liefde vir twee vroue Jy wil praat oor die grense van liefde ek staan verstom oor die omvang daarvan
jy wil praat oor die Weg van Liefde ek wil iets sê oor liefde wat weg is
jy wil praat oor buite-egtelike kinders asof daar iets buiten egte kinders is
en terwyl jy trots mag wees op joune eis jy ‘n verskoning vir myne
Jy wil hê ander moet ‘n voorbeeld vir jou kinders wees ek wil hê jy moet ‘n voorbeeld vir jou eie kinders wees maar jou morele riglyn is priesters, presidente en bekendes myne is gewone mense wat die onmenslike trotseer Jou ideale leier is – iemand soos jy ek vra vir die soewereiniteit van ruimhartiges Jou armoede lê in jou gespog oor wat jy het my rykdom is die kennis van wat ek kort Jy wil praat oor ander se gapende voordeur ek wil praat oor jou oop agterdeur Jy wil praat oor rokjagters asof die idee van vroue met keuses ‘n taboe is Jy wil raai oor reg en verkeerd in ‘n ideale wêreld ek wil praat oor regmaak in die regte wêreld Jy wil praat oor moraliteit en gode ek wil praat oor die etiek van die sterfling Jy wil praat met die swaar vuis van oordeel ek wil luister na die beurtsang van die brose Jy gebruik jou vingers om ons uit te wys myne bly in ‘n vuis oor my hart geklem Jy volg media spasie oor bekendes se feilbaarheid ek baklei vir die spasie om mens te wees jy geniet pynlike publieke kruisigings ek veg in die doodloopstraat van privaat seer Jy wil hê ek moet soveel moontlik soos jy wees terwyl daar soveel opinies is as wat daar mense is Wat ek wegsteek word miskien hier gewys maar wat jy hier wys sou ek wegsteek Jy wil spekuleer oor ‘n morele moondheid ek wil sterf voor die spektrum van moontlikhede Jy wil praat oor mense wat god word ek wil praat oor God wat Mens word en bloei Jy is reg. Ons verskil. Hemelsbreed. Steve Hofmeyr
|