|
Hallo almal, uit Australie. Sopas uit SA verneem dat Duisend En Een goue status bereik het. En dis nog nie in al die winkels tuis nie. Dankie!! Ook vir die wonderlike komplimente op Facebook daaroor.
  Ses jaar gelede was ek nie heeltemal seker hoekom mense sou wou emigreer nie. Vandag, na vier dae in Brisbane, weet ek nie hoekom mense nie dadelik emigreer nie. Pretoria by the Sea, noem hulle dit, vir die lekker weer, die Afrikaans, die rugby en die Jakarandas wat hier ook bont staan. Daar’s darem ‘n see, ‘n Boere slaghuis, baie Afrikaanses en die mooiste golfbane ooit. Die sypaadjies is skoon en ‘n totale afwesigheid van heinings en voetgangers laat mens effe paranoïes rondloer. Maar dis net ekke.
  Ons eerste konsert het reeds 800 kaartjies verkoop voor ons aankoms. En dit met so min as twee maande se waarskuwing. Afrikaners het nege ure gery uit New South Wales en ander het gevlieg uit Sidney. Die aand self was fantasties. Die afterpaartie ook: in daardie suave Absolut Vodka daktuinklubs onder die sterre (in Brisbane self, foto's bo). Die uitsmyters daar is kleiner/korter as ek maar almal vriendelik en deel van die gekuier. Brandewyn is vreeslik skaars, koffie is “’n Flat White, mate” (klink soos 'n Pretoriaanse voetganger) en Marmite is Vegemite (onthou jy die lied “do you come from a land down under?”)
 Die hele Suid Afrika sal pas in hierdie mees oostelike provinsie van Australie, waar die Bulle en Bokke nooit wen nie! Kwantitatief. Geografies. Niks anders vergelyk nie. Die wil om belasting te betaal demonstreer hom in die opbrengste – jy weet jy kry dit terug, hetsy in gesondheidsdienste, infrastruktuur of munisipale doeltreffendheid. Hier heers die lewe omdat jy nooit tyd mors met te veel politiekery en onsekerheid of onveiligheid nie. Selfs geringe motorongelukke maak voorbladnuus. Die ongekende vriendelikheid vang my steeds onkant. Hier is 'n foto (links) van 'n publieke braai langs die strand. Daar is gas in en jy druk slegs die rooi knoppie en siedaar: braai! Gratis. Die publiek hou dit skoon. Don't try at home... Meer as 100 Afrikaner families plaas hul kinders se opvoeding in die hande van Pastor Willy by Christian Outreach College; ‘n skool waar 17 van die 25 rugbyspelers Afrikaans is en meer as die helfte van die onnies Suid Afrikaans is. Hy reken as nog Suid Afrikaners aansluit, hy hul rugbyveld na LOFTUS sal herdoop.
  
Ek dog die Great Outback met ‘n Steve Irwin woestyn lê tussen Brisbane en Darwin. Maar om daar te kom moet jy eers oor die berge deur wouddorpies wat lyk soos iets tussen Knysna en Pilgrimsrus. Ons bly oor by David, Ann en Angelique (voorheen van Rustenburg, foto onder) in Tanglewood Gardens in Mapleton. Hier braai ons onder die sterre, met elke voormalige Suid Afrikaner wat sy eie storie kom vertel, ‘n ervaring wat wissel tussen totale bevryding en pure haat. En later, ná die Malvapoeding, seer nostalgie en bietjies heimwee. Dan Pampoen.
Hier is een  Boer wat miskien net TE veel verlang (nommerplaat heel links). Nie almal se redes vir emigreer is ewe lekker om aan te hoor nie. Ek sal hieroor NOOIT voorskryf nie.
Dankie veral vir die Afrikaanse Klub, Brisbane, Arno, Ben, Rialette en julle wonderlike families.
More vlieg ons NZ toe. Steve ps. Hier onder is 'n foto van OR Tambo lughawe nadat Julius Malema president word.
 * Bookmark these four sites to keep in touch with Steve’s everyday doings - Dit is nou moontlik om op vier verskillende plekke deel te word van Steve Hofmeyr se dag tot dag dinge. Boekmerk die volgende kuierplekke en bly op hoogte met sy wêreld, sy CD’s,sy opinies en sy konserte.
1. Steve se DIS HOE Dosis op Jakaranda 2. Sy nuwe Facebook kring 3. Sy alomberugte webblad (jy's op die regte plek) 4. En Twitter (vir daaglikse op die minuut inskrywings)
|