|
As die weer anders was, was NZ en OZ seker baie dieselfde. Die paar verskille is egter groot verskille.
   Hier in NZ is daar vulkaniese berge en reën dit graag. Dit is nog nie koud nie, maar dis grou en nat. Het jy al Christchurch op TV gesien? Ons ook nie. Die Bokke sien ook nie die bal daar nie. Dis die mis en die reen, seg almal. “Sielkundig het dit soms ‘n negatiewe uitwerking op die Boere”, vertel ons gasheer, Fritz, wat al ‘n dekade hier bly. Maar vir baie toeriste sal New Zealand gesien word as mooier. Dis meer tropies, die see is nooit vêr nie en jy kan ‘n klein Toyota onder een enkele varingblaar intrek. En natuurlik is Lord Of The Rings hier gemaak en jy verwag dat Gollum sommer uit die donkergroen gestap sal kom met ‘n voorsssstel of twee teen die gryssss. Ek ontmoet vir Fritz, Thys, Martin, Francois. En om een of ander rede trek die weer oop vir vier dae aan mekaar en ons ondervind die heerlikste warm winter in Auckland (onder links).    Ons word ge-escort na Torbay, Long Bay en Browns Bay (2de foto bo). Hier herken Suid Afrikaners jou sommer op straat so baie is hulle. Ons deel grepies uit ons gemene kontinent. (My pienk broek in die foto’s is my klein interkontinentale bydrae aan baba Marzanne Kruger. Sodat jy weet, ek het nie vergeet nie. Daar’s ook ‘n klein berig oor Malema wat aan Zuma moet apolgie vra. My vraag: wat van verskoning vir die Afrikaner wie hy met die dood gedreig het?) Auckland se konsert is reeds uitverkoop. Daarom open ons ene vir Sondag ook. Saterdag drom die Suid Afrikaners vroeg reeds in toue saam by die voordeur (onder links). Ek gaan gesels buite. Sien weer vir Jan en Maureen. Meer as agthonderd mense daag die aand op. Dewald en sy groep open vir my. Dankie julle! Sold out, seg die poster. Binne hierdie SA "kaffee's" (onder regs) werk almal soos slawe. Vergeet om vir Liesbet te roep. Min plek vir luigatte hier.
    Ek love nog altyd hierdie stad tussen die seë en eilande, met sy skoon parke, vulkane en bergpieke met sneeu. Frits vertel ons meer. In NZ kry jy jou leerlinglisensie op vyftien en die ou in die teengestelde laan, wat wag vir jou as jy ook wil links draai, het eintlik voorrang. Vreemde reël. Ek skop my enkels amper reg deur die dashboard elke keer as ons voor iemand regs indraai. Ek slaan na dat die Maori woord vir Blou en Bul dieselfde woord is: puru. Ek sou die aanname maak dat puru puru beteken Bloubul. Dit kom van die Maleisiese stamwoord "poer" wat om sy beurt afstam van die Afrikaanse "poer in jou moer!" (hiehie)
Rotorua die skoonste NZ binnelandse dorpie, vang my onkant. Drie mere, een massiewe woud, ‘n half-die-moer-in vulkaan en stoom wat oral deur die gras, modder en grond borrel (2de pic bo). ""This is not an active vulcano," vertel die tannie. Whatever, dink het. Plaaslike oproepe is gratis. Ons ry deur 'n dorp waar ek eers moet stop. Sy naam is BULLS. Ek sweer. En alles in Bulls is Bulls georiënteer , soos die fotos wys. Die polisiestasie is bvoorbeeld "consta-bull", en die kerk is "forgive-a-bull" ens. Kyk onder.    Ek ontmoet die mooiste mense by die konsert. En dis min of meer hier by Agter Elke Man rond, dat mense trane begin afvee. Dan by Liefling en Pampoen. Al haat jy Suid Afrika, bly sy nostalge gange oop en seker effe leeg as jy ver bly. Die ontvangs was oral goed. Soms groot, soms klein, maar altyd waardeer deur ekspats en Kiwi's gelyk. In Rotorua was alle vlugte weens mis gestrand en moes ons ‘n kar huur deur die eiland. Ons kry 'n Ford.    Ons stop twee ure later in Mokau, êrens tee ‘n die weskus af. Drink Peachees, gemmerbier en Whitebait (klein wit vissies so groot soos haarnaalde, met ogies wat vir jou loer. Kliek op middel foto bo.) New Plymouth en Palmerston North lyk baie dieselfde as laas, met meer Suid Afrikaners as ooit. Die spektrum Afrikaner-sentiment word ook hier verteenwoordig. Verlange, indifference, kwaad, moerig, bitter seer. Napier (onder) en omgewing is baie soos die Paarl.
   Behalwe dat dit die Art Deco hoofstad van die wereld is, is daar wingerde, berge en Amelia (en Pierre) wat brei soos Swartlanders. Ek voel sommer tuis. Ek ontmoet Joan (bo regs), 'n wereldreisiger met belange in Amerika, Suid Afrika en New Zealand. Hier smile ek, Amelia en Joan in 'n heerlike ontbyt-shoppe in Napier.
 Ons land in Wellington in gure weer en erge wind. Ek wonder wat maak ons daar. Tot die konsert daardie aand. Al doen ons dan net die groot stede, sal Wellington beslis ingereken moet word. Waar kom soveel Afrikaners verdaan, vra ek. "Uit die Kaap!" skree meeste van hulle. Wellington is dan ook die meeste soos Kaapstad van al die stede in NZ. Hier word ek om middernag op straat herken deur goed gepaartiede jong Afrikaner seuns en girls. Ek dink hulle dink hulle sien 'n spook. Ons kuier lekker.
Ek en Julius verlaat die Noord Eiland vir die Suid Eiland, en Christchurch. Dat ek nou daar moes wees terwyl die Bloubulle regmaak om teen die Crusaders te speel op SOWETO. Eisj. Die konsert verloop goed en daar is honderde meer Suid Afrikaners as vyf jaar gelede. Iemand vra of dit veilig is om terug te kom. Hulle wil. Wat sou jy antwoord?
   Ek kry ‘n Crusaders trui as geskenk. Maar die Bulle gaffel hulle. Ons bly wakker, doen brannas (wat baie skaars is in NZ) en sien die Bulle en Stormers deur na oorwinning. Baie trots op my manne! Christchurch verras my heeltemal. ‘n Groot gehoor, en ‘n limo by die lughawe. Popstar stuff! Dankie Werner en Jeanine. Op die lughawe vra ek vir ‘n croissant. Die Engelse hier sê nie die “h” nie. “Would you like me to ‘eat it for you”, seg die mooi Maorie meisie. Internasionale insident, dink ek. Ek koop die broodjie en sy eet dit!!! Not a hell!
 Die vlug terug is lank maar beter as die vlug in. Ek kyk George Clooney se Up In The Air en begin lees aan rebelfilosoof Christopher Hitchens se outobiografie (en ook Waitangi&Indigenous Rights. Ek voltooi Albert Luthuli se Let My people Go). Ek maak notas om oor te vertel dat die droom van ‘n leefbare Suid Afrika my voornemens sal dryf. Ek het dit gesien. Dis mooi. Sal ek emigreer. Dankie dat jy vra. Maar dis te laat vir my. Ek het reeds belowe dat ek sal bly. Iemand moet die ligte afskakel. Steve x
|