|
Die Eugène Terre’Blanche Storie. (deel 2 ingesluit onder) deur Steve Hofmeyr
Ek het Eugène Terre’Blanche: My Storie aangeskaf die oomblik toe ek by Exclusive Books instap. Oom ‘Gene het fors na my gestaar, oor sy gryse baard en onderdeur sy naam. Dié is in veel groter letters aangebring as die naam van die samesteller van die outobiografie. Uiteraard. Dit is ook in groot grys letters aangebring. Ironies. Want as jy dit lees sal die grys gebied tussen mense en idees jou byval eerder as die harde rooi en swart beelde wat sy vlae en kentekens in die gemoed en geheue oproep. Wat was ET se Damaskus ervaring binne die mure van Rooigrond Gevangenis? Eugène Ney Terre’Blanche is op 3 April 2010 wreed om die lewe gebring. Hy was amper sewentig jaar oud. Eintlik ‘n weerlose bejaarde. Knopkieries en ’n panga is langs die bed gevind waar hy in sy slaap oorval is. Vir maande het sensasiepers ons probeer wysmaak van mites om sy tragiese afsterwe, toe dit eintlik net ‘n tipiese brutale dag in die lewens van Suid-Afrikaners was. Alhoewel dit moeilik is om God se barmhartigheid met daardie oomblik te versoen, herhaal Eugène hom gereeld wanneer hy dit uitstippel: Ek weet God leef en dat Hy oor die lotgevalle van mense en volkere beskik. (p202) Na die verlies en nederlaag van die Boereoorlog het gelowige Boere dit onder die aandag van hul leiers gebring dat God se wil vir die Afrikaner nog so duidelik was nie. Niemand kan vandag antwoord op die vraag of die lot van die moderne Afrikaner nie ook God se wil is nie. Miskien was ons nooit reg vir die antwoord nie.
Ek moet nog steeds aan liberales en swartes verduidelik hoekom ek Eugène Terre’Blanche se begrafnis bygewoon het. As ek antwoord dat Eugène my vriend was en dat ek hom respekteer het, is die strafantwoord gou: Knowing what that man did, how could you? Maar ek is in die besigheid van antwoorde. Kortes verkieslik. Knowing what Nelson Mandela did, how could you not? Ek weet dit paai hulle nie. Maar hulle tel hulle woorde versigtig daarna, omdat ons die land is van vingers wat terugwys. Êrens om die beurt was jou voorvaders die kroek in die verhaal. Almal erken dit nog nie. En Eugène Terre’Blanche het dit geweet in sy “shuffle” tussen ideologieë, soos Christopher Hitchens die gemoedelike relativering van die ouer garde noem. Wat my paai is dat my besluit om hom te verdedig, tog gevindikeer is. Soos my besluit om Mandela te vergewe vir die bloedverlies wat sy bomme in ons stad strate aangebring het. Albert Luthuli, die ANC opper indoena, het sy eerste bomme laat plant minder as tien dae nadat hy die Nobelprys vir Vrede ontvang het. Ek het hom ook maar vergewe. Ek het Eugène Terre’Blanche ook vergewe. Hy het my gevra in sy boek om dit te doen. En ek hou nie van vergewe nie. Ek vind vergifnis ‘n oorskatte deug. Het jy al die daders van vandag se sinnelose plaasmoorde al vergewe vir wat voor vanaand nog gaan gebeur? Maar die Eugene wat ek geken het en uitgenooi het om sy gedigte van Rooigrond op Dis Hoe Dit Is (KykNET) te kom voorlees, was iemand wat besin, herbesin en sommer baie gebid het. En ek lees hom so in sy boek raak. “Ironies beteken my van wit grond...”, verduidelik hy voordat ons uitstap voor die kameras, waar sy persona soos ’n ervare dramastudent langs hom plek inneem. Rooigrond was sy Rubikon en niks sou daarna weer dieselfde kon wees nie. “Rougrond”(p213), noem hy die geestelike Rooigrond, ‘n sel wat sy bieghok sou word binne ‘n tronk wat hy sy katedraal sou maak waar “jy die priester is wat jou eie offerandes bring...”(p191). Ek wil nie oor politiekery praat nie, vra hy oor die telefoon. Die bandwydte steel sy bariton weg. Dis oraait as oom net gedigte kom lees ook. Ek het nie planne om oom in ‘n verleentheid te bring nie, belowe ek. Dis dan goed so. Ek wil met jóú ook praat. Ek skrik my gat af. Ook maar mens en leser van koerante waarop ET joernaliste sou jag, swartes sou aanrand en van perde sou afval. Dit is ‘n kwaal van ons tyd dat ons publieke figure opsom gegrond op enkele bronne wat die media manipuleer om ons aandag te trek. Ruda Landman was briesend oor my geneentheid met ET as gas en glanspersoon. Maar sy storie kom ver. Hy het aanvanklik as lyfwag vir die Apartheidsregering gewerk en hulle en die Broederbond daar leer verag. Ek glo nie sy simpatie was ooit met die Struggle nie, maar sy bede was by die behoud en respek vir die offerande van sy voorvaders. Kan daar nog enige liberale wees wat behoudendes daardie reg wil ontsê? “As ons hier omdraai. Sal toekomstige geslagte boet vir ons verraad en twyfel.”(p194)
My kritiek op die boek is die effe onsamehangendheid in die rondspring onder onderwerpe, daadwerklik eerder ‘n memoir as ‘n outobiografie; ‘n verteller wat gelyk te veel op die hart het. En slegs wat hy wil: daar is geen enkele woord oor Jani Allen in hierdie memoir nie. Presies die versuim wat ‘n outobiografie jou nie sal vergewe nie. Ek wil geen uitgewers van manipulasie beskuldig nie, maar Eugene noem homself na bladsy sewentig vir die eerste keer ‘n Boer. Die res van die tyd is hy ‘n stoere “Afrikaner”. By geleentheid het Oom Eugène my vaderlik berispe dat hy ‘n Boer is van die Boervolk en dat “Afrikaner” bloot ‘n Britse fabrikasie was. Dit pla my geensins, maar ek raai hy sou my die kyk gegee het waarmee die omslag jou konfronteer. Ek het die boek in vier sessies deurgedraf. Baie vrae gedy: hoe gaan die met tannie Martie? Waar is Raka die perd? Hoe voel Bea oor alles? Wie sou sý ideale AWB opvolger wees? Sit Thami nog op Rooigrond? Haat hy nog vir Pik Botha? Ken hy vir Mandela? Ensovoorts. Maar Oom Eugène se gedagtes los by my ‘n skuldgevoel. Hy skryf my skuldig. Ek lees nie bloot sy woorde nie, ek hóór sy dramatiese bulderstem die feite onderstreep en uitspel, soos net hy kon. Ek dog ek ken die verhale, maar ek moet dit nog leer inasem, soos hy gedoen het: “O, ek wens ek het die hart van ‘n De Wet gehad, met sy lang, fier gestalte en sy treffende woordkeuse. Of dat ek die onuitputlike intelligensie van Jan Smuts kon ontgin om my gedagtes te orden, of dat ek saam Strijdom die toekoms kon instaar en vêr waarhede sien. Of dat ek die integriteit van CR Swart gehad het om altyd in beheer van my woorde en humeur te bly. Dan, met die waagmoed van ‘n De la Rey en die geloof van ‘n Cilliers, kon ek teen hierdie Amajuba van my gemoed uitstorm om my vryheid oor die afsondering op te eis. Ek sou langs die sterwende bevelvoerder van die vyand gaan kniel, hoed in die hand, om vir oulaas eer aan ‘n dapper kryger te betoon.”(p195)
Ek is jammer oom Eugène. Die vyand gaan niks doen met g’n hoed in die hand nie. Ons kniel nie eers meer langs vriende nie. En die nuwe respek wat jou pragtige, seer verhaal ons almal kon aanwakker, is weg met een enkele swiep van die panga.
Die Eugène Terre’Blanche Storie (2).
In hierdie tweede aflewering gaan ek Eugène Terre’Blanche moontlik minder prys. Omdat ek en hy oor te veel saamstem, wil ek gou ‘n paar woorde sê oor die belangrike plekke waar ons idees skei. Dis tegnies, maar belangrik. Oom Eugène is nie bang om te sê hy twyfel nie. Hy noem die woord “onseker” by meer as een geleentheid. Maar dit is waaroor hy seker is waarby ek steeds vrae het. Ons verlossing, preek hy oor en oor, lê by ons geloof en ons kultuur. Hieroor stem ek saam. Ek sou naastes en familie insluit. Ons kinders. Hieroor stem alle Afrikaners geredelik saam. Ek dink meeste Suid-Afrikaners ook. Maar die skielike verskille kom wanneer jy die ligte vernis van hierdie konsensus raak skuur en die groot chaos wat daaragter skuil, waarneem. En ek pleit by my dialektiese kollegas om nooit die debat te bedryf tot vlak voor die deel waar jou naels breek van die geskuur nie. My ondervinding is dat Afrikaners, aanvallende sowel as verdedigende nasionaliste, intelligent en verdraagsaam genoeg , daarom ryp is vir verder gesels. Die voorvereistes is dat jy nie moet hardloop sodra jy uitvind hoe min mense met jou saamstem nie. Ek ken hierdie alleen plek. Eugène ook. En dis nie-essensieel om altyd saam te stem nie. Hieroor waarsku hy in een van sy vele juwele: “Afrikaners kan so maklik met mekaar verskil. Dis goed so want daardeur slyp ons die volksmening tot ‘n verfynde begrip, of dit nou in stryd of in vrede is.” (p268) Soos Eugène wag die Suidlanders vir die Hand van God (Rapport 27 Junie 2010) maar niemand kan ons sê hoekom die lot van die Afrikaners, ook wanneer hy onder druk verkeer, nié die Hand van God is nie. Is ons nie al weer besig om God voor te skryf nie? Is ons werklik so spesiaal onder nasies? Dat dit alleen God se wil is as dit goed gaan met die Afrikaner? Hoekom? Die uitverkorenheid van die Afrikaner en die Jode word ironies deur daardie partye gesien as ‘n seëning, maar die teenspoed waardeur hulle moet oorleef getuig van die teengestelde: indien nie ‘n afwesigheid van God nie, dan die afwesigheid van ‘n God wat hulle uitverkies het vir welvaart. Miskien is ons uitverkies om te ly, maar waar los dit ‘n God van Liefde en Regverdigheid dan? Soos die Suidlanders glo Eugène Terre’Blanche vas dat ons ongeloof en afvalligheid die oorsaak is van ons verknorsing. Onder omstandighede vind ek die teengestelde. Die arme Afrikaner het nog nooit so hard gebid soos vandag nie. Dis reeds slegs die Apartheid tydperk tussen die Boere oorloë en die ANC bewind van vandag waarby hulle veilig was en moontlik nie soveel verlies en vrees getoon het nie. Volksuitwissing en ander brutaliteit e verander die versoeke en intensiteit van jou bede. Maar dit is ‘n dwaalstelling om voor te gee dat slegs Christene en gelowiges moreel kan wees. Daarbenewens weier ek om die huidige toestand op ongelowige Afrikaners te blameer. Die ideaal is goed: as almal goeie Christene was, was die wêreld ‘n beter plek. Dit glo ek. Maar anderkant hierdie teorie vertel die realiteit ‘n heel ander storie. Dat dit in die geskiedenis sleg en goed gaan met Christene ongeag die intensiteit van hul geloof. Dat die meerderheid Suid-Afrikaners vandag verreweg deur die Christengeloof onderskei word, dat meer as 90% beskuldigdes op die Amerikaanse deathrow erkende Christene is en dat die grootse oorloë in hierdie eeu deur die gelowigste nasies bedryf word. Jy moet jou afvra of die letterlike verstaan van die Bybel jou die lisensie gee om ‘n Israeliet te word? En of God jou slegs uit die woestyn sal lei solank jy nie afgode oprig nie? Ons afgesonderdheid van die “heidenvolke” kom direk uit Nehemia 13. SJ du Toit, wat dit ook ywerig in 1885 gepreek het, het moontlik nie Apartheid voorsien nie, maar sou die aanleiding daartoe en misbruik daarvan moes insien. Wanneer ek die genesis van die Afrikanertoestand bestudeer, kan ek nie anders as om by sy partikulere geloof te begin nie. Nie dat geloof ‘n taboe is nie. Allermins. Ek is niks daarsonder nie en my identiteit is deurspek van Nuwe-Testamentiese Protestantisme, maar ons oorhoopse verwagtinge van ons Drie-eenheid plaas ons God in ‘n verleentheid. Ons elmboog Hom in situasies waar ons Hom wou hê. Ons reken dit is Sy wil as ons drieë druk, as ons wen, as ons regeer en as dit begin reën maar aanvaar dit nie as Sy wil as die golf van voorspoed teen ons draai nie. Dan blameer ons die duiwel, asof dié almagtig is. Maar die duiwel bestaan en handel onder God se almag (’n ander teologiese brandpunt). Terwyl die Calvinisme in Europa deur ‘n reeks evolusies omvorm word, het die wegbreek Boere s’n sonder kritiek geïsoleer gelê in ’n familiebybel toegesluit êrens deur die Vrystaat op pad Waterberge toe. Dit sou iemand dinamies en oorreedbaar soos Paul Kruger neem om die 19de eeuse dwaalleer onder Afrikaners te besweer, dat hulle uitverkorenes was op ‘n kontinent waar hulle eintlik net buitestanders was. Kultuur is nie vir almal dieselfde ding nie. Baie verag dit. In Notes From The Middel World verduidelik Breyten: “...”culture” is rather like that of an angry dog to its image in the mirror: I bark and piss against it...I think of it as a vesselword, a vassal to meaning...” En alhoewel ek Breyten sy protes gun, vra ek my liberale eweknie of hulle in hul liberale vrygewigheid en verdraagsaamheid my my anderste liefde vir die my kultuur sal gun. Die ou Lefties dans dan al te mooi. “Die Afrikaner se grondgebied is veral geleë binne die grense van sy geloof en in God se genade.”(p264) sê Eugene. Dit weerklink soos iets vars uit die Afrikaanse Patriot van 26 Oktober 1877: “Die taalbeweging is uit God...en ons doen dit, omdat ons geloof, dat dit so de Heere syn wil is.” Ek self voorsien nie dat God uit of buite enige formule gehou kan word nie, maar by soveel verskille kontamineer uiteenlopende idees van Godswil die sekulêre debat wat ook gewen kan word. Hoekom, as nasionalisme ondergeskik is aan godsdiens, het ons ou Calvinistiese leiers nie God se wil geraadpleeg toe die strengste Christene onder hulle versplinter het as stoere republikeine en radikale, Christelike en vrysinnige, oop en geslote en gelowige en sekulêre nasionaliste nie? Wat was God se wil toe? En hoekom weet ons steeds nie. Daar is vandag eenvoudiger oplossings, soos om die grootste agente van God se wil onder een dak te kry en te peper vir antwoorde wat ons so lank reeds so wreed ontduik. Konsensus sal ‘n vloekwoord wees en antwoorde uiteenlopend. Nie omdat God nie ‘n wil kan hê nie, maar omdat ons nie werklik daardie enorme privilegie as seëlbewaarders kan opeis nie. * Hier's pics van die EGOLI vrystelling, handtekeningsessies, sokker, ens.
   * Armand se CD is amper reg. Kan nie wag nie. *  Ek lees nie Gavin, Esmaré en Barnard se getjommel nie. Ek neem ook nie deel aan enige gesprekke waarby hulle betrokke is nie. Ek doen beslis niks waarby hulle kan baat nie. Nie omdat ek bang is vir hulle nie, maar omdat ek hulle ken en daarom weet dat so ‘n debat amateuragtig SAL wees en niks sal oplos nie. Hulle MAG NIE saampraat oor families, kinders en gesinne verloor nie, want hulle kon self nie die som totaal van een verhouding, een familie, man, vrou of kinders hou, by mekaar hou of onderhou nie. Hoe hulle die morele hoegrond besit, gaan my verstand te bowe. My lewe en pyn is vir hulle ‘n kommoditeit en 'n inkomste. Niks meer nie. By die afwesigheid van hierdie element, sien ek hulle eintlik ook nie as mens nie. Eerder as insekte. Parasiete. Bring iemand wat die onderwerp met dieselfde erns bejeen as ek. Nie hierdie halfgebakte wanna-be's nie.
* Hoe lekker dat Sky News nie val vir ANC magspeletjies nie. Hulle noem Pretoria niks anders as Pretoria nie. * Ek moet bieg, al die sokker, rugby en tennis in een maand, is ‘n fees vir sportmalles soos ek. Kan nie glo Federer is uit nie. *  
Ons kuiertjie by Jacaranda 94.2 FM het groot fondse opgelewer vir hulle Winter Warmer veldtog, om die kouetjie vir minder gegoedes op ‘n afstand te hou. Dankie almal. Ek en vele ander sit by Riva en Martin waar ons telefone beman vir donasies. Hulle gaan my moontlik nooit weer gebruik nie, omdat algar wie my geskakel het net wou weet hoe dit gaan... Indien jy bygedra het sal jou naam hier verskyn. * Die jong en dapper stigter van Angels Of Leukemia, het die 22 ste Junie gesterf. Hy was ‘n held in my oë en sy naam was Juan Dee Van Jaarsveld. Hy was onder chemo behandeling toe hy skielik beswyk het. Ons is ‘n engel minder... * Op die wêreldwye Genocide Watch, wat volksuitwissing en teikening van minderheidsgroepe monitor, het wit Boere in Suid Afrika sopas van vlak 5 na vlak 6 gevorder. Daar is slegs 8 vlakke en internasionale ingrype is vanaf vlak 7. Ons regering voldoen ook aan die 12 vereistes van “genocide denial”. Daardie vlakke word so omskryf:
1. Question and minimize the statistics. 2. Attack the motivations of the truth-tellers 3. Claim that the deaths were inadvertent. 4. Emphasize the strangeness of the victims. 5. Rationalize the deaths as the result of tribal conflict. 6. Blame “out of control” forces for committing the killings. 7. Avoid antagonizing the genocidists, who might walk out of “the peace process.” 8. Justify denial in favor of current economic interests.
(Israel Charny outlines the tactics of denial in “Templates for Gross Denial of a Known Genocide: A Manual,” in The Encyclopedia of Genocide, volume 1, page 168.) *
Volgens Beeld is De Wet en De La Rey nou ook op Vryheidspark te vinde. Wally Serote moet dronk wees. Of het wit bydraes hom skielik bygeval? Die waarheid is dat die mense vir wie dit gebou is moontlik eers in 2070 AD 'n jota vir erfenis sal demonstreer. Tot dan moet ons die arme (miljoene rande se) monumentjie maar besoek word met mense wat erfenis verstaan en waardeer. Kom Boere, dis julle belastinggesldjies wat daar bo le en bak in die son. Gaan kyk maar hoe lyk oom Koos langs oom Albert... * Ek is klaar met Eugene Terre’Blanche se outobiografie en lees nou JC Steyn se wonderlike Trouwe Afrikaners –aspekte van Afrikanernasionalisme en Suid-Afrikaanse politiek 1875-1938. Wit en swart eise vandag het hul oorsprong in verwikkelinge gedurende asook ná hierdie tydperk. Dit is nie onbelangrik nie. Sal vir iets ligter soos 'n Ludlum saamneem. * Hier is twee foto's uit Juliet se musiekvideo, binnekort op TV. Kyk uit vir die verrassing. Eh...ek is die lorriedrywer. Meer mag ek nie uitlap nie.
  * Ek gaan so bietjie met vakansie. *
Dankie vir al die wonderlike saampraat en ondersteuning. Ek haal vir die eerste keer in jare weer bietjie asem. Sien jou by Emperors! Kliek hier vir besprekings. *
Soet wees. Steve xxxxxx
Bookmark these four sites to keep in touch with my everyday doings&writings:
1. "DIS HOE" dosis op Jakaranda 2. My nuwe dinamiese Facebook kring 3. My alomberugte webblad (waar jy nou is!) 4. En Twitter (vir daaglikse oppad inskrywings) 5. Of skryf vir lidmaatskap aan die KIT fênklub! Box 288, Cornwall Hill, 0178. Dis fun.
|