|
Goeienaand, broers en susters.
Welkom in ons gemeente op hierdie lieflike Kersaand, julle donnerse dwepers.
Ek wou nog die gemeente oudergewoonte verwelkom, maar vir húlle ken ek goed. Hulle kan ek op my twee hande tel. Die res sluip elke jaar hier in soos ’n dief in die nag, sodat hulle heeljaar kan sê hulle gaan soms kerk toe. Julle f*kn huigelaars. Ek’s lus en maak soos Casper: vra jou om te waai omdat jy nie die joke vang nie, want die joke is op jou!
Hierdie huis van God is nie iets wat jy móét doen nie, dis iets wat jy moes wees. Altyd.
Eendag as jou kinders nie meer huis toe wil kom vir Kersfees nie, sal jy weet hoe dit voel. Soos vele voor jou, sal jy seker dan eers kom aanklop. Ek’s lus en jaag julle almal uit, julle mooiweers-drolle, maar hierdie kerk sal sy tuinjong moet afdank as dit nie vir daai enkele sente is wat julle so grom-grom in die kollektebeurs gooi nie. Skenk nou vir eenkeer dieselfde bedrag wat jy aan een enkele aand in ’n kroeg saam jou pelle blaas op iets so vlietend en duur soos tequila. Ek weet jy gaan nie, want jy dink mos die geld kom na my toe. Ha. Maar ja, hierdie is ’n besigheid. En ons soek nie aalmoese nie. Ons soek bewyse dat jy die ewige handel tussen die materiële en geestelike ken. Vat slegs hierdie gratis advies volgende jaar terug werk toe en jy sal verstom wees. Dankie tog vir die jonger breindood-generasie wat vandag hier voor my sit. Ek weet julle is hier onder dwang. Ek tel twaalf. Tipies. Want hiérdie gemeenskap pla jou geensins totdat jy op 40 groot woorde moet leer uitspreek soos dubbelehartomleining, divertikulitis en cholesterol. Daardie dag eers leer jy dat dokters nooit genoeg sal wees nie. Maar op 20 beteken “gemeenskap” vir jou mos iets heel anders. Kom kyk hoe neem oom Piet en Tannie Mariaan jou in as jou ouers jou uitskop omdat jy ’n minderjarige meisie swanger gemaak het. Ons is kenners van hierdie situasies. Ons doen dit al vandat oom Piet self hier opgedaag het met die jonge Mariaan Cloete, bloosgesig kinders sonder heenkome. Ons doen nie JesusBabbel hier nie. Ons doen Jesusdade.
Jy het Facebook en Twitter vir eersgenoemde. Ons vra presies DIT wat jy vervloek as jy ’n luigat baas of werkers het: verdienste, arbeid & aksie. Moet jouself asseblief nooit weer paai dat jy NIE deel is van die nasionale lamsakkigheid nie. Moet nooit weer die media skakel as ek weier om jou stout kinders te doop nie. Hierdie is nie ’n donnerse Kentucky take-away nie. Loop doop hulle self.
Oukei, ek staan meesal self hier en babbel oor God, definisies van Hom en sy kastige wil en kenmerke. Ek weet dis spekulasie. Dis óórfamiliêre k*kpraat gesanksioneer deur tyd en tradisie. En om die kaf van die koring te skei, met en sonder gebed, is moeilik. Maar daar is soveel meer redes om kerk toe te kom as teologiese sekerheid. Jy’s nie hier vir die Waarheid nie. Wat de hel is dit anyways? Jy’s hier vir die volle spektrum alternatiewe. Die ander kant van daai muntstuk wat jou so jaag. Dis omdat jou sekulêre bestaan bankrot is aan simboliek, dat jy self verval in die oppervlakkigheid waarvan jy die wêreld om jou blameer. Het jy geweet dat kerke die huismark deur die plafon jaag? En vice versa. Kerke wat kwyn voorspel net een ding vir jou voorstad. Kyk maar. Vir al die sondes van die kerk, is hierdie ou hoop bakstene ’n simbool van stabiliteit ook. Self vir nie-gelowiges.
Ons kom tot ons reg wanneer mense ly. Dis die kerk en sy lojale gemeenskap wat gedurende rampe in die voorste linies werk, daar waar jou regering en jy moes wees. Ek blameer jou as jou elektriese hekke toerol gedurende krisisse, want dit is wanneer hierdie twee ou deure oopswaai. Draai om, kyk maar, hulle staan altyd oop. O, ek sien, dis moeilik om om te kyk. Nee, ek gaan nie hierdie bankies groter maak nie. As julle groot gate meer vas, soos Handelinge 13 en 14 voorstel, sal julle dalk net die enigste dieet teëkom wat werklik help en die term daaglikse brood beter verstaan.
Die volle spektrum alternatiewe. Dis omdat jy nie kerk toe kom nie dat jy die duiwel soek in jou medemens en nie van hom weet om elke ander hoek en draai nie. Jy sê ek verveel jou. En jy soek ’n goeie preek. Maar jy kry ’n preek van ’n GOEIE mens wat sy Saterdagrugby opgee vir jou spiritualiteit. Iemand wat weet dat daar meer is aan GEES as die goeie gees by Loftus Versveld. Iemand wat meer doen as wat ’n TV-stel ooit kan, met ander woorde, LUISTER. Watter ander goddelose kanaal doen dit? Ons is nie hier omdat Eksodus 20:8 en Hebreers 10:24 sê ons moet hier wees nie. Ons is hier want ons wil hier wees. Moraliteit is nie MOET nie. Moraliteit is WIL. ‘n Good ol’ fashioned bleddie keuse, weet jy? Is dit hoekom jy nie kom nie? Omdat niemand jou sal pak gee nie? Jou kinderagtige imbesiel.
Ek het gedink die storie van een man wat in sy laaste ure aan ’n kruis ’n vonnisgenoot vergewe, miskien ’n belangriker boodskap sou wees as Finweek se aandele spekulasie wat jou hierdie jaar, soos verlede jaar, weer in die k*k gebring het. Maar elke jaar dié tyd kry jy ’n moraliteitsaanval en wals hier in soos die wind. Kyk hoe lyk julle! Niemand trek meer so pretensieus aan nie. Wanneer was jy laas hier, 1972? Liewe bliksem, broer.
Hierdie kort preek is nie vir jou aandag en gemak nie. Die Kersfeestyding is in elk geval vanselfsprekend. Die res mis jy 52 keer per jaar, as ek hier staan soos die groot poep en praat met myself. Nee, jy kan nie die diens CD’s koop nie. Hulle is vir HERoorweging, nie oorweging nie.
Na die Kersdiens is daar koffie, tee en southappies, weereens voorberei deur ouma Alma Smuts. As hierdie jou eerste diens van die jaar is, bliksem ek en ouma Alma jou hier uit aan jou kraag. Ons kleedkamers is slegs vir lede. Gaan pis by die huis. Jou leraar en dominee. Andre.
(deur Steve Hofmeyr met komplimente aan Quinton Lets, the Spectator)
* Bookmark these four sites to keep in touch with Steve’s everyday doings&writings: 1. Steve se "DIS HOE" dosis op Jakaranda 2. Sy nuwe dinamiese Facebook kring 3. Sy alomberugte webblad (waar jy nou is!) 4. En Twitter (vir daaglikse oppad inskrywings) 5. Of skryf vir lidmaatskap aan die KIT fênklub! Box 288, Cornwall Hill, 0178 en braai saam my teen die einde van die jaar.
|