|
Anders as tien jaar gelede, sal die WAT-IS-KUNS debat my nooit weer ontsenu nie. Hierdie jaar, soos elke ander jaar, moet kunstefees-komitees, museums, handelaars, galerye en Sotheby’s dieselfde ondankbare takie verrig: hulle moet die koeie van die kalwers skei. En hier, soos oral oor, sal die debat homself weer uitwoed tot elke kenner terugkruip in sy dop, omring met dit wat hy oor tyd vergader het as kuns, teen sy mure of in sy opinie.
Hiermee sê ek nie dat die gesprek die pas markeer nie. Maar soos vele ander dispute voel nuwe deelnemers hulle debat lewer hierdie jaar moontlik iets nuuts op, gewoonlik iets wat ’n oorwinning vir hul voorkeure sal insluit. Dit gebeur natuurlik amper nooit. Maar sonder dat hulle dit weet is die populis en puritein elkeen en om die beurt verantwoordelik vir sy belangrikste bydrae tot die kuns: die retoriek maak dit dinamies. Die monster kry asem. Die prys word gehaal. Die pionier word uitgedaag en die student geïnspireer. Die kuñstenaar oorweeg verkope en die verkoper oorweeg die diepsinnige en die roete vanaf die ridiculous to the sublime word weer gekarteer; die GPS kry ’n ander stem, maar die afstand bly dieselfde. Dit alles omdat ons weet dat daar ’n definisie moes wees; miskien omdat die lys van dinge wat ooglopend NIE kuns kan wees nie, soveel makliker is om te definieer. Byvoorbeeld die chloor in my swembad en die spaghetti in my bord. Ook die mousepad en die klank van ’n haardroër uit die slaapkamer? Is my hondjie dan nie 'n kunswerk nie?
Die eye of the beholder beduiwel die doopdag van kuns. Al lank.
Toemaar, kunskenners het ook hul af dae. Soos hier.
Henri Matisse se Le Bateau was ’n verleentheid vir die Museum of Modern Arts toe dit vir amper twee maande daar gehang het – onderstebo! (Die handtekening was nie sigbaar onder die raam nie.) ’n Gewone makelaar het dit eerste raakgesien. Uit die voorbeeld daarvan hier bo sou ek self nie seker wees hoe dit moes hang nie. Hoe sy jy dit hang?
Hierdie dekade het Norman Rockwell (1894-1978) bykans heilige status in Amerika verwerf. In Taschen se reeks oor kuns literatuur noem hulle hom “America’s most beloved painter”. Onbeskaamd. Hoor jy hoe ruk die Yankee puriteine hul Smith&Wessons uit om oom Norman uit die water te blaas met ’n universele boikot op elke illustrasie wat in die 20ste eeu op Amerikaanse kalenders, voorblaaie en Kerskaartjies vertoon is. In the Spectator (Januarie 2011) doen Andrew Lambirth presies dit: “Rockwell’s work is escapism, pure and simple, and illustration, not art.” Tog noem hy dit enkele sinne later “artwork”. Daarna lê hy sy lysie uit van skilders wat hy in galerye sou wou sien en eindig sy resensie met ’n regverdiging van sy keuse omdat sy lot minder bekendes was en geen belangstelling kon wek by die breë publiek nie. Tel jy die slaggate? (kliek hier vir meer Rockwell illustrasies)
Om daardie ekstra 15% BTW te ontduik verkoop Dan Flavin sy Six Alternating Cool White/Warm White Fluorescent Lights/Vertical and Centred as installasie kuns (links). Hy het amper weggekom daarmee! As jy daarna kyk kan jy nie help om te dink dat dit eintlik net ’n oordadige ligprop is nie. Wel, dit is presies wat dit is. Maar voordat die liberale Europese definisie van kuns ligpropvervaardigers te gelukkig maak – die Europese Kommissie het uiteindelik daarteen besluit. Die debat woed voort. Jan Taks een, driedimensionele kuns nul (en Duchamp draai in sy graf).
Miskien moet kuns meer organies wees? Geen elektriese toebehore. Maar dit skakel die meeste elektroniese kunste asook musiek en film uit. Dit skakel moontlik ook ligte uit, sodat kunsgalery sonder beligting moet werk, dit wil sê, kuns kan nie saans waargeneem word nie. Ad absurdum.
Dog vind sekeres dit eenvoudig. Britannica Online definieer kuns as "the use of skill and imagination in the creation of aesthetic objects, environments, or experiences that can be shared with others." Ek tel (en onderstreep) vier slaggate groter as dié in die Oos Vrystaat, waarin ek 'n vier ton trok vol debatte kan parkeer.
Wat is kuns? Jy vra die verkeerde ou. Ek bly lankal weg van hierdie slim debat. Want slim vang sy baas te maklik in dié ene. En hier links is die eintlike Le Bateau van Henri Matisse. En hy hang onderstebo. Of doen hy?
Die een daar bo is sommer my eie krabbel.
Steve Hofmeyr
* Bookmark these four sites to keep in touch with Steve’s everyday doings&writings: 1. Steve se "DIS HOE" dosis op Jakaranda 2. Sy nuwe dinamiese Facebook kring 3. Sy alomberugte webblad (waar jy nou is!) 4. En Twitter (vir daaglikse oppad inskrywings) 5. Of skryf vir lidmaatskap aan die KIT fênklub! Box 288, Cornwall Hill, 0178 en braai saam my teen die einde van die jaar.
|