|
Ek plaas vir almal se inligting die eintlike onderhoud tussen my en Jacques Pauw. Sy Rapport artikel was korrek dog onvolledig (en as ek geweet het hierdie was vir Rapport het ek nie my tyd gemors nie). Ek onderstreep grepe wat ek dink onetiese aannames is. Gelukkig is die publiek al opgelei hiervoor en koop eenvoudig nie meer krak vir kroekies nie:
Dag Steve, Ek is die hoof van ondersoeke by Media24 koerante in Johannesburg en is besig om artikels vir die naweek-koerante oor Ralph Haynes te skryf, wat verlede naweek spoorloos verdwyn het.
Hi Jacques. Ja, ek weet presies wie jy is en ek antwoord jou graag en dadelik.
Ek is in besit van byvoorbeeld foto’s wat tydens Haynes se 45ste verjaardagparty in Krugersdorp geneem is waar jy, Joost vd Westhuizen en Amor Vittone is. Dis duidelik dat jy baie goeie vriende met Haynes en van sy manne is.
Ek is bevriend met Ralph en Jackie. Ek ken ook hul kinders, maar sy vriendekring het ek net per geleentheid ontmoet.
Ek is ook in besit van beedigde verklarings wat tans by die polisie is waarin Haynes geïmpliseer word in diefstal, bedrog, intimidasie en dwelmhandel en – gebruik. Ek ken Haynes baie goed en het onlangs ‘n novel geskryf waarin Haynes, Ferdi Barnard en Corrie Goosen se lewens gefiksionaliseer word. Ek het ook ‘n vorige boek geskryf waarin die bende-aktiwiteite van Haynes belig word.
Ironies het hy my ook gevra om hom te help om sy eie storie te vertel. Ons het so ver gekom as sy 16 de verjaarsdag. Maar ek was bewus van Ralph se benewelde verlede danksy materiaal soos joune en dokumentêre reekse oor hom.
Die polisie se georganiseerde misdaad-eenheid het reeds ‘n klagstaat teen Haynes opgetrek en hy sou binne dae in hegtenis geneem word. Toe verdwyn hy. Hy is reeds einde verlede jaar in hegtenis geneem en van diefstal aangekla.
Ek is bewus dat daar altyd allerlei gerugte rondom sy beweerde aktiwiteite was. Ek het dit afgemaak as net dit – gerugte – aangesien ek geen bewyse tot die teendeel gehad het nie.
Ek het vandeesweek met van Haynes se vertrouelinge gepraat en daar is geen twyfel nie dat hy die leier van ‘n belangrike misdaad-sindikaat aan die Wes-Rand is.
Hierdie lisensie vir vooroordeel is ook misdaad. Dit sal vir my erg teleurstellend wees as dit waar is. Ek het dan baie duidelik net met die sosiaal-aanvaarbare kant van Ralph te doen gekry. Jy is iemand wat bekend is vir jou standpunt en veldtog teen misdaad en ek wil graag weet hoe jy jou kon assosieer met ‘n person van Haynes se kaliber. Jy was ‘n gereelde gas by hom aan huis by 36 Michael Rd, Chancliff Ridge Ext 4, Krugersdorp (ook by sy vorige woning). Hy bly terloops nou al ‘n jaar lank in Chancliff Ridge en het nog nooit enige huur betaal nie. Die huiseienaar is tans besig om ‘n uitsettingsbevel teen hom te kry.
Omdat ek van die min onafhanklikes in Ralph se vriendekring was, was ons s’n ‘n vriendskap van wedersydse respek. Behalwe as lyfwag het ek hom nooit by my sake betrek nie en hy het sy besigheid nie myne gemaak nie. Hy het selfs sy oproepe buite gaan neem. Dit het ek altyd waardeer. Ek weet van sy reputasie maar ek ken die kant van hom wat mense in die knyp, soos sy (groot) familie, myself, Joost en baie benoude mense uit sy gemeenskap graag bygestaan het.
Hier is wat een van sy vertrouelinge oor Haynes sê: “Ralph is die slimste maar mees geslepe man wat ek ken. Sy lewe was een van knocks, dwelms en misdaad. Ek dink nie Ralph het al ooit ‘n eerlike ding in sy lewe gedoen nie.”
Ek dink die werk van invorderings, ondermeer, kan ’n dodgy job wees, maar ’n nodige een. Ek weet van honderde eerlike dinge wat Ralph gedoen het. As hy oneerlik was, self misdadig, sal hy my geensins kwalik neem dat ek terugstaan sodat die gereg sy gang sal gaan nie. Dit verwag ek van enigiemand, omdat dit vir my ook sal tel.
Iemand soos sekuriteits-spesialis Mike Bolhuis het vandeesweek aan my bevestig dat hy jou al gewaarsku het om jou bande met Haynes te verbreek.
Hy’t my nie gewaarsku nie, hy’t my gevra om ’n lang dolk in Ralph se rug te steek. My antwoord aan hom destyds is presies wat ek hier aan jou antwoord. Niks het verander nie. As Ralph krimineel was, sluit hom toe. Jy weet hoe ek oor hierdie tipe misdaad voel. Maar as julle spekuleer, is julle aandadig.
Volgens die vertroueling, wat ek hierdie naweek in onder meer Rapport gaan aanhaal, het Haynes jou vriendskap gebruik om sy status te verhoog ten einder mense te beïndruk om “deals” met hulle te beklink.
Hiervan weet ek niks. Ek het hom een of twee keer as lyfwag gebruik by publieke aangeleenthede. Hy was goed daarmee omdat ek van my lyfwagte verkies om onder die radar te beweeg. Tydens Eugene Terre’Blanche se begrafnis het hy iemand van my afgeskeur wat kwaad was omdat ek glo destyds “ja” gestem het. Maar dit was vinnig en stil. Geen vuiste het geklap nie. Hy het selfs die outjie onder bedaring gebring.
Ek sal graag wil hê dat jy jou vriendskap met Haynes verduidelik. Ek het reeds met Joost van der Westhuizen oor Haynes gepraat en hy het hom gedistansieer van dié bendeleier. Ek sal ook graag by jou wil weet of jy bewus is daarvan dat die voertuie wat Haynes aan jou verskaf het om mee rond te ry, na bewering gesteel was. Jy het byvoorbeeld in 2009 vir ongeveer negemaande lank met ‘n wit Dodge Ram rondgery (jy het met die trokkie by Haynes se 45ste verjaardagparty opgedaag) wat Haynes aan jou verskaf het. Volgens beëdigde verklarings het Haynes aan die einde van 2008 twee Rams – ‘n witte en rooie – by Frank Frandsen van die Oos-Rand gekoop, maar nooit daarvoor betaal nie. Die saak is by die polisie aangemeld, maar Frandsen is met die dood gedreig.
Hy het my gevra om dit te toets en ek het daarvan gehou. Maar hy het dit later kom haal. As Ralph met al sy karre eendag sommer nog twee Dodge Rams gaan koop het, was hy miskien nie so slim nie. Daarom twyfel ek aan die volledigheid van die Frandsen-storie.
Is jy bewus daarvan dat die Dodge in jou besit na bewering gesteel was?
Ek is nie bewus daarvan nie. Ek is ook nie bewus van die bewering nie.
Ek het ook verneem dat Haynes ander karre, onder meer ‘n Mercedes SL55 AMG, aan jou gegee het om mee rond te ry. Jou kitaarspeler, Andries Botha, het glo ook ‘n kar van Haynes gekry.
Ek onthou dit graag. Ek het dit gebruik na ’n feesgeleentheid toe en terug. Hy het van sy ander sportmotors ook aan my beskikbaar gestel. Die Ralph wat ek ken het met ’n bank of twee hier ingery toe ek in ’n leë huis op die vloer gesit het na my egskeiding. Hy het nooit iets terug verwag nie. Hy’t my seuns leer boks en hulle was mal oor hom. Hy het sonder skroom ’n fooitjie in iemand op straat se hand gedruk. Ek dink werklike armoede het hom herinner aan sy kinderdae. Hierdie dade sal en mag hom nie help as hy die wet oortree het nie, maar ek kan ongelukkig nie deel wees van die partydige en voortydige beswaddering van Ralph Haynes nie. Ek volg jou ondersoek met belangstelling. My wens is dat hy opgespoor word en veilig sal wees.
Ek wil ook weet of jy bewus is van die sogenaamde “chill room” in Haynes se huis waar ek verneem onder meer dwelms deur hom en andere gebruik is.
Nie voor my nie. Al Ralph se kamers het vir my gelyk soos “chill rooms”. Hy’t skaars gedrink voor my en hy het nie rook en dwelms geduld nie. Ons het nie kamers nodig gehad om te chill nie.
Kan jy my asseblief kontak om hierdie kwessies te bespreek. Jacques Pauw Media24 ondersoeke
|