|
Oom Al is op 22 Junie 1924 gebore. Hy was dus een jaar ouer as Dawie Couzyn, vier jaar ouer as Fanus Rautenbach en 20 jaar jonger as Dawid de Lange. Alec Debbo het meer as sestig jaar gelede as pieringoog grapmaker die plaaslike silwerdoek betree. Baanbrekerswerk. Sy eerste film was immers die Afrikaanse taal se vierde film. As jy Frederik Burgers as Hardy sien, was oom Al onse Laurel. Of Abbott and Costello...
Maar dit was lank voor my tyd. As jong kind onthou ek sy snaakse spanpogings met Don Leonard in Pens&Pootjies, in die tyd toe die Inry of Drive-ins nog meer gewild as TV was. Ons praat van ’n tyd van ware passie. Sy generasie sou films gemaak het vir ‘n bier en middagete. Lank voor professionele rugby, het Anna Neethling-Pohl, Siegfried Mynhardt, Wena Naude, Esme Euvrard, Fanus Rautenbach, Dulcie van den Bergh, Gert Potgieter hulle talente gedeel vir niks meer as die voorreg nie. Dit het oom Al later baie gepla. Miskien te laat. Ek het dit weer gesien toe ek hom meedeel dat ek gaan toer met van die oudste sangers in die land. Maar hy WAS dan die oudste sanger in die land, die ander was dan almal dood, het oom Al gegrap. Ons vriendskap en vennootskap het daar begin. Maar my generasie was laatkommers op ’n pad wat darem baie mooi gelykgemaak is deur supersterre voor ons. Oom Al het die Afrikaanse gehore vir ons voorberei.
Ons smartlap volkie kan soms vreeslik wroeg, maar een man het ons kollektiewe hanglip vir dekades lank oor ons ore kom trek. 'n Volk het ten spyt homself, geskaterlag. Oom Al Debbo self het moontlik een van sy grappies oor homself onderskat toe hy sê: "Ek is beter as 'n dokter as ek optree." Hy weet nie hoe nodig ons daardie terapie gehad het nie. Hy het letterlik vreugde na miljoene gebring. Soms in skerp grappies, gereeld sonder woorde, meesal net deur sy naam te noem.
Alles was nie altyd snaaks vir hom nie. Hy het hy sy eerste seun op die jong ouderdom van 23 verloor en na twee egskeidings die wonderlike hawe in Ansa en hul twee seuns saam gevind, drie mense wat die regte Al beter as enigiemand geken het en vir wie daar nie binnekort troos sal wees nie. Dis reg so. Maar soos my een vriend sê, met soveel goeie innings groet mens darem ook so ’n ikoon met ’n dankbare “so long”.
Toe ek my afspraak op 13 Julie 2011 met oom Al met een uur mis, was hy reeds een uur oorlede. Daar het ek gesien dat niks wat ons toe sou sê, onmiddellike troos sal bring vir Azar en Alec en Ansa en die res van die familie nie. Alec het my gelei na sy kamer in die Medi kliniek. Ek het die hand waarmee ek hom altyd gesalueer het op sy koue voorkop geplaas en saggies dankie gesê namens ’n land en sy mense wat hom nooit sal vergeet nie. Vir die trane wat ons gelag het. Vir die bietjies buikspraak en toorkunsies. Die rol-oë. Die nabootsings van Smuts en Churchill. Die rubber knieë. Daar kom die Alibama. Die trane die rol oor jou Bokkie. Die Tantes van Nantes. Sonbrilletjies. En Hasie.
Ek onthou oom Al as grapmaker dog geen fokustrekker. Hy kon stil sit en luister na almal se storie en af en toe inval met ‘n lawwe juweel. Tydsberekening is tog alles en daarvan het Al Debbo baie gehad. Ek het hom net een keer effe opgewonde gesien (toe ons hom in ‘n grap meedeel dat hy die hele Toeka toer ‘n kamer moes deel met Jody Wayne. Oom Al het ons meegedeel, in nie heeltemal soveel woorde nie, dat dit buite die kwessie was!)
Eintlik was oom Al al oud en broos tydens die verfilming van Pampoen (met Miems de Bruyn) en die Toeka toer. Elke aand het ons hom toegedraai in komberse, suurstof gegee en op ‘n bank maak lê, en elke aand as ek sing "Hasie, hoekom is jou stert so kort..." spring hy op soos Lasarus uit die dood, ruk sy tandeborsel uit, gooi sy vilt hoedjie op, kam sy ooghare terug, kom staan langs my en word Michael Jackson. Sy stamina op ’n reeds gevorderde ouderdom, was aanskoulik. Sy passie ’n inspirasie.
Ek onthou hoe ek oom Al speels gekasty het oor hy nie tot my hulp gesnel het in ’n film waar Leon Schuster my reg voor hom en Sandra Prinsloo geklap het op ’n verhoog. Leon was slim. Hy het selfs my kitaar oor gebou en die begin stukkend slaan. Hy moes weet dat dit my oor die rand sou stuur. Dit het. Maar tydens die film swaai die kamera weg na Al Debbo se reaksie terwyl ek en Leon in die plat verjaardagkoek op die verhoog spartel. En al wat oom Al kon uitkry was: “Maar wat van die kitaar?”
Ek het Al Debbo die eerste keer gesien in Pens-en-Pootjies, maar eers dertig jaar later ontmoet met my Toeka projek. Aand na aand het ses duisend mense opgespring as die reeds tingerige ikoon daar agter op die stretcher orent kom, sy suurstof kannetjie neersit, sy vilthoedjie opsit en uit uitstap op die groot verhoog en Hasie sing. Oom Al was skerp maar nooit grootbek nie. My hoogtepunt was hoe dankbaar so ’n legende was vir hoeveel jare hom geskenk is om ander te vermaak en laat skaterlag. Hy het elke aand kom dankie se. En elke aand het hom gesê hy moet ophou daarmee, dis ons wat hom skuld.
Twintig minute nadat ek by die hospitaal weg is om te sing op ’n huldekonsert vir nog ’n afgestorwe kollega het ek en Amanda Strydom ’n sagte woordjie in die gange van die Bloemfonteinse Sand Du Plessis gewissel. Ons was eens hieroor. Party kunstenaars doen. Ander kunstenaars is. Al Debbo was laasgenoemde.
@Steve_Hofmeyr op Twitter, 10uur, 13 Julie 2001:
“Ag oom Al, totsiens. Ek’t jou gemis met ‘n uur. Jy voorkop koud onder my hand. Jou glimlag dans in jou doodsplooie. Jyt glo gesing tot die einde."
Meer hulde hier.
|